Sunday, April 12, 2009

Gedig: My Diep Ontwaakde Hunkering

Note: This post originally appeared on my discontinued website maartensity.com. The published date and time has been adjusted to approximate the original.

Die hitte slaan op uit die teerpad
en die geur van stof en sinkdakke
roer swart sade van herinnering
die hartseer van herinnering
van 'n diep ontwaakde hunkering
want hier al langs Jakaranda takke
wat skuif en skuur oor die bruin sinkdakke
lê 'n diep begrawe hunkering.

Bo die pienk, gevalle Jakaranda blom
op grond grof tot die reën weer kom
hoe snak ek as die blare wink
as baksteen rooi deur die blare blink
beur my hart as die onthou weerklink
soos dreunings ver in die middagson
die donderweer van die reën wat kom
wat heimwee in my hart weer bring.

Daar's 'n huis wat agter heinings staan
'n huis waar grasse ruig opstaan
met skadus teen die baksteenmuur
en'k onthou weer eens was iemand hier
en sy het daar langs die rooi steenmuur
in die son soms vir 'n ruk gestaan
geglimlag en dan in gegaan
en my hele hart herroep haar hier

Want my leefruim het sy weg gebaan
met doel en drif verspoel in eiewaan
en haar sag bruin oë en helder lag
diep wys stem en roesbruin hareprag
het vir ewig eendag stilgeraak
vir ewig sag bruin nimmermeer
en die diep verlange eggo weer
want hartseer bly geduldig wag

Terwyl die hitte styg uit die teerpad op
en die geur van sinkdakke en stof
sag-saggies sweef soos herinnerings
soos die hartseer en herinnering
van my lank begrawe hunkering.
Daar duskant Jakarandatakke
wat skuif en skuur oor die roes sinkdakke
verrys beelde van my hunkering.

No comments: